Ons Skoolgeskiedenis

Mnr Barnard en ‘n personeellid, Me Nortier, het op ‘n tragiese wyse hul lewe verloor toe hy, sy vrou en Me Nortier op die aand van 6 Desember 1952 op pad huis toe was ná ‘n skoolkonsert.  Die brug oor die Goukourivier was nog nie voltooi nie en hul motor het van die pont in die rivier geloop.  Mnr Barnard het ‘n belangrike rol gespeel om die gemeenskap van Stilbaai te bevorder en toe die nuwe skool op die dorp ingewy is, was daar nie ‘n meer gepaste naam as Laerskool Bertie Barnard nie.

Die skoolgebou het aanvanklik bestaan uit wat vandag die kantore van die hoof en die sekretaresse, die rekenaarklas en die klaskamers vir graad 1 en 2 huisves, met ongeveer 60 leerders en 3 onderwysers. Mnr Johannes Calvyn Ferreira was die eerste Skoolhoof.  Intussen is meer geboue opgerig om voorsiening te maak vir die steeds groeiende getalle.

In 2004 het ons die 50 jaar  fees sedert die stigting van Bertie Barnard gehou. Die feesvierings het plaasgevind in Julie 2004 oor vier dae en het oud-leerlinge, asook onderwysers en skoolhoofde van dwarsoor die land byeengebring. Die feesviering was ‘n groot sukses.

In 2004 is daar ‘n Saal aangebou uit skenkings wat ontvang is, harde werk en bydraes van die ouers en gemeenskap.

n Reeks van 4 nuwe klasse is in 2008 aangebou toe die skool se leerdertal so vergroot het dat dit nie meer in die oorspronklike gebou gehuisves kon word nie. Nog 2 klaskamers is in 2010 aangebou.

Tans wissel die skool se leerdertal tussen 220 en 240 en brei dit steeds uit.  Ons is steeds besig met nuwe aanbouings.  Hou gerus die webtuiste dop vir die voltooiing hiervan.

X